Die Proses

Die proses het kortliks onder andere behels:
Ek het my seun  John, wat baie kreatief is en goed kan teken, gevra om die gesig van n kwaai boer te teken. Ek het met geluk die regte beeldhouer in die Kaap opgespoor wat die kop en lyf kon maak.Ons moes toe eers ‘n liggaam wat in die regte “geweer” houding staan, laat 3D skandeer. Uit hierdie skandering is liggaamsdele met n 3D drukker gemaak. Hierdie liggaamsdele moes op n stewige manier aanmekaar gesit en weer uitmekaar gehaal kon word. Dit het baie fyn ingenieurs-tekeninge en vernuf behels.Die talentvolle en kreatiewe beeldhouer, Pieter du Plessis, het toe verskillende “moulds” gemaak vir elke liggaamsdeel. Elke liggaamsdeel van Jan word steeds kunstig met die hand en met die hulp van hierdie “moulds” uit glasvesel gemaak.  Jan se gesig, kompleet met frons, glasoe en snor is elke keer n kunswerk op sigself. Daar was verskeie metaal bokse ontwerp en gemaak as Jan se voetstuk voordat ons een gekry het wat reg is. Die meganisme wat Jan laat draai het ook deur baie ontwikkelingsfases gegaan voordat dit reg gewerk het. Die elektronika was ook ‘n enorme uitdaging. In die proses moes ondenkbaar baie uitdagings oorkom word, en dis te danke aan die elektroniese ingenieur Willem Boshoff dat ons lewe in die vorm van beweging en klank aan Jan kon gee. Die regte luidsprekers en klankversterker moes gevind word om Jan se stem en geweerskote oortuigend te laat klink. Jan se stem moes opgeneem word, dit was ook baie lagwekkend en het ‘n seer keel en hees stem tot gevolg gehad. Jan se “geweer ” moet gemaak word, en daar moes n geskikte jaglig vir sy  geweer gevind word. Met elke Jan wat gebou word, voel dit soms soos n moeilike geboorte wat plaasvind. Maar dis die moeite werd, want Jan Gun het van die begin af gewerk en is sonder weerga as dit kom by die weghou van bobbejane en roofdiere!