Jan Gun is uit nood gebore, tydends die droogte het die skade wat bobbejane aangerig het op ons plaas in die Roggeveld berge naby Calvinia al hoe erger geword. Die vrugteboord en groentetuin is gestroop en verniel. Hulle het het begin om by die stoor in te breek om by die mielies uit te kom. Hulle was byna daagliks in die hoenderhok om die hoenders se mielies en eiers te stroop, en nodeloos om te se dit het gepaard gegaan met groot konsternasie, ontsteltenis en baie vere wat waai tussen die arme hoenders. Elke geleentheid wat ek kon, het ek op hulle geskiet met die geweer, en later as ek net uit die huis kom met my geweer, dan vat hulle dadelik die pad . Maar hulle bespied die werf soos skelms en sodra jy weg is, dan is hulle weer daar. En mens kan nie heeldag op die werf rondstaan met die geweer nie. Toe het ek raad gekry en begin dink daaraan om ‘n pratende, bewegende bobbejaanverskrikker met ‘n geweer te maak.
Toe die droogte op die ergste was, het die bobbejane begin om jong lammers te vang, te verskeur en te vreet. Dit het my ontsettend kwaad gemaak en genoodsaak om die bobbejaanverskrikker lewe te gee. Dit was ‘n uiters uitdagende kreatiewe proses om vir Jan Gun te laat opstaan, maar dit was en is steeds nie sonder baie vermaaklike oomblikke nie. Die naam is geinspireer deur ‘n bekende boer van die Karoo met die bynaam Jan Gun, wat die bynaam jare terug al gekry het omdat hy sy vuurwapen aan die sy dra soos ‘n boere cowboy.